Leergestremdheid

Elizabeth Stone het gesê:  ‘Die besluit om ‘n kind te hê is formidabel.  Dit is die voorneme om vir altyd daarna jou hart buite jou liggaam te sien rondloop.’

So ‘n groot besluit, maar een wat baie keer so maklik geneem word.  Wanneer ‘n baba gebore word, kan ons nie wag om aan die wêreld te verkondig dat ons ‘n welgeskape seun of dogter ryker is nie.  Ons beker van dankbaarheid en trots loop oor oor hierdie geskenk van God.

Ons mensdom is egter snaaks – baie keer is ons so opgewonde oor ‘n geskenk en dan begin ons rondkyk en dit opweeg teenoor wat ander het en kan die opgewondenheid taan.  Ons sien dit baie by mammas met kinders ook. Dit begin al in die hospitaal:  My kind weeg soveel en joune? Later is dit: Myne het al twee tande, wat van joune …?  My kind kruip, praat, loop, lees al en joune?  Vir baie van ons begin daar dan ‘n onrustigheid inkruip, as ons kind nie opweeg teen die ander nie.

Wanneer hierdie vergelyking by skoolgaande kinders gebeur, is daar altyd daardie kindertjies want net nie heeltemal die paal haal nie –   daardie outjies wat altyd net so bietjie te kort skiet.  Hy/sy is of te besig of te stadig, die een wat ‘net nie ore het nie’, wat altyd alles verloor of vergeet, die enetjie wat nie soos die ander heeltemal die kuns van lees, skryf of spel bemeester nie, sosiaal nie so lekker inpas by die maatjies nie en in konflik betrokke raak en baie huilerig is.

Baie gou kry hierdie kindjie ‘n etiket by die skool as die moeilike, probleem kind wat leer ontwrig en word die ouer se lewe ‘n nagmerrie van gereelde oproepe van die skool, doktersafsprake, toetse, medikasie, terapie… die ouer word oorspoel met woorde soos leergestremd, hiperaktief, aandagafleibaar, taalagterstand, terapie, remediëring, medikasie.  Hul beweeg van bakboord na stuurboord op soek na antwoorde en hulp. Hierdie nagmerrie wêreld is so ver verwyderd van daardie idilliese oomblik toe daardie klein babatjie vir die eerste keer vasgehou word.  So baie vrae en so min antwoorde…

Hierdie is egter die kinders wat vir ons by Transvalia baie na aan die hart lê.  Hierdie kindertjies wat so swaarkry met hulle versteekte gestremdheid of ‘hidden disability’.  Die rede waarom ek dit so noem, is dat hierdie gestremdheid nie onmiddelike simpatie uitlok by mense soos ‘n fisiese gestremdheid nie omdat mense dit nie kan sien nie, maar dit kan vir die kind en ouer net so verpletterend wees.

Dit is hierdie kinders en hulle ouers wat by Transvalia-skool ‘n tuiste kan vind.  Hier glo ek is daar tog antwoorde, is daar mense wat die kind verstaan, is daar ‘n toekoms vir hierdie kind wat in die gewone skoolsisteem so seerkry omdat hy/sy ‘anders’ is.

Kinders met ernstige leerprobleme, hiper-aktiwiteit, aandagafleibaarheid en epilepsie kom baie keer met ‘n stukkende selfbeeld by ons skool aan.  By Transvalia-Skool word hierdie kinders geleer dat hulle, met die hulp van bekwame personeel, hulle probleem kan hanteer en ook kan presteer soos ander.  Die kind leer ook dat daar ander soos hy is.

Ons doelwit is dat hierdie outjie met tyd sy kop sal oplig en die wêreld vierkantig in die oё sal kyk en weet hy of sy is die moeite werd.

Transvalia Skool het in 1972 begin as ‘n skool vir leerders met epilepsie met net 7 leerlinge, maar geleidelik oorgegaan na ‘n skool vir hoofsaaklik spesifieke leergestremdes met ‘n leerdertal tans van 390.   Spesifieke leergestremdheid is ‘n neurologiese gestremdheid wat een of meer van die basiese prosesse wat benodig word in die verstaan of gebruik van die geskrewe of gesproke taal beïnvloed.  Dit kan manifesteer as ‘n gebrekkige vermoë om te luister, dink, praat, lees, skryf, spel of om wiskundige berekeninge te doen.

Wat maak Transvalia-Skool anders as ‘n hoofstroom skool?  Wel, vir ‘n begin is die personeel wat hier werk nogal baie spesiaal.  Ons bied die gewone ‘CAPS’ kurrikulum aan soos by hoofstroom skole sonder enige aanpassing, maar om dit te kan doen moet ons ‘n gespesialiseerde opvoedkundige omgewing skep.

Ons gee dus aandag aan die volgende:

  • Die korrekte plasing van die kind is belangrik
  • Min leerders per klas. Ons probeer om nooit meer as 20 leerders in ‘n klas te hê nie, sodat daar meer individuele aandag gegee kan word
  • Vaste struktuur veral vir die ADHD leerders en outistiese spektrum leerders is baie belangrik sowel as positiewe dissipline
  • Die klasopset moet reg wees bv. Daar moet nie te veel wees wat kinders se aandag aftrek nie.
  • Spraakterapie en arbeidsterapie veral in graad 1 – 3 wanneer dit nog ‘n verskil kan maak. Remediёrende terapie van graad 4 op. Mediese suster.
  • Leesvaardighede en vermoё word so ver moontlik ontwikkel, aangesien lees essensiëel is vir leer.
  • Leerstof word aangepas. Die uitleg, taal, font asook die leesbaarheid van tekste is belangrik
  • Leerders word die geleentheid gebied om ‘n positiewe selfbeeld te ontwikkel. Sukses op akademiese gebied dra grootliks daartoe by
  • Eksamentoegewings (akkommodasies) word voor aansoek gedoen, sodat ‘n leerder se kennis en vaardighede regverdig geassesseer word. Oudiohulp vir leer.
  • Ons kry hulp vir leerders by neuroloё, sielkundiges, maatskaplike werkers en pediaters. Hou hul fyn dop vir emosionele trauma.
  • Ons verskaf vervoer aan leerders oor die hele Pretoria en ons huisves leerders in twee koshuise.
  • Daar is atletiek, rugby, sokker, landloop en netbal op ‘n mededingende basis en Transvalia-skool presteer goed. Die kultuur bly ook nie agterweё nie.  Ons neem gereeld aan die Eisteddfod deel. Elke kind moet tog een keer in sy/haar lewe applous ervaar, glo ons hier.

Wat maak Transvalia-Skool anders as ander skole, vra u miskien nog?  Een van ons oud leerders het dit die ander dag vir my opgesom. Sy woorde was dat die personeel by Transvalia heel eerste omgegee het oor sy welstand en dit mis hy by die hoofstroomskool waar hy nou is en waar dit hoofsaaklik oor sy akademiese prestasie gaan en nie sy welstand nie.

Miskien het Augustinus van Hippo dit reg opgesom toe hy gesê het:Hoe lyk die liefde?  Dit het sagte hande om ander te versorg.  Dit het vinnige voete om ander te gaan help.  Dit het skerp oë om ander se nood raak te sien.  Dit het goeie ore om die geringste klag of sug van ‘n naaste op te vang.  Dit is hoe die liefde lyk.”

 Ons wens vir ons leergestremde en ander kinders is dat hul hier ‘n koesterende omgewing sal vind waar hulle kan groei en uiteindelik hulle volle potensiaal kan bereik.  Ons skool leuse ‘In Geloof Voorwaarts’ herinner elkeen van ons – kind en onderwyser – aan waar ons krag lê as die pad moeilik raak.

Ons as ouers en onderwysers moet meer as enigiets anders onthou dat elke kind, met of sonder ‘n gestremdheid, God se spesiale geskenk aan ons is. Ons moet ons kinders voortdurend daaraan herinner.  Hierdie baie spesiale gedig van Russell Kelfer verwoord dit so pragtig:

 

You are who you are for a reason.

You’re part of an intricate plan.

You’re a precious and perfect unique design,

Called God’s special woman or man.

You look like you look for a reason.

Our God made no mistake.

He knit you together within the womb,

You’re just what he wanted to make.

The parents you have were the ones He chose,

And no matter how you may feel

They were custom designed with God’s plan in mind,

And they bear the Master’s seal.

You are who you are for a reason,

You’ve been formed by the Master’s rod.

You are who you are, beloved,

Because there is a God.

Mev Beverley du Toit - Skool Hoof Transvalia

Andries Pretorius
No Comments

Leave a reply