Transoranje-skool vir Dowes

Kerkstraat Wes 855
Pretoria-Wes

Posadres:
Posbus 19036
Pretoria-Wes
0117

Telefoonnommer: (012) 386 6072/5
Faksnommer: (012) 386 6077
E-posadres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Transoranje-skool vir Dowes is in Pretoria-Wes geleë en maak voorsiening vir die opvoeding en welstand van ongeveer 206 leerders met erge gehoorgestremdheid. 'n Jong leerder met doofheid vereis hoogs gespesialiseerde onderrig en leiding. Dit is die skool se strewe om leerders van so jonk as drie jaar oud toe te laat sodat hulle so vroeg moontlik formele kommunikasievaardighede van gespesialiseerde opvoeders en terapeute kan aanleer. Benewens die aanleer van gebaretaal, spraaklees en skryfvaardighede, word leerders ook geleer om formele spraakvaardighede in Afrikaans of Engels te ontwikkel.

Gespesialiseerde personeel vir optimale ontwikkeling
Vir leerders met spesiale behoeftes se welstand om optimaal te ontwikkel, is spesiale leiding en voorligtingsgeriewe nodig. Die skool se personeelkorps van spesialis-opvoedkundiges en ondersteuningspersoneel sluit in 'n arbeidsterapeut, spraakterapeute en oudioloë, sielkundiges, deeltydse mediese spesialiste, kundiges op die gebied van gebaretaal, verpleegkundiges, tegniese vaardigheidinstrukteurs en huismoeders. Vanweë die spesiale behoeftes van leerders met doofheid, word 'n betreklik uitgebreide korps opvoedkundiges vereis om 'n 7:1 leerder / opvoedkundige verhouding te bewerkstellig.

Toepassing van normale skoolsillabusse
Transoranje-skool volg die Gautengse Departement van Onderwys se leerplanne vir primêre en sekondêre onderwys tot en met Graad 12. Dit verseker dat soveel moontlik van die leerders konvensionele vaardighede opdoen ten einde mettertyd in die ekonomiese arbeidsmag te kan werk. Alle standaard skoolvakke soos tale, wiskunde, rekeningkunde en kommersiële vakke word aangebied, asook praktiese-, kommersiële-, tegniese- en lewensoriënteringsvaardighede. Die leerareas word aangepas sodat dit "doofvriendelik" sal wees.

Geestelike ontwikkeling
Godsdiensonderrig en die aanbieding van lewensvaardigheidstegnieke is die hoekstene in die daarstelling van 'n gesonde lewensbalans en ontwikkeling van die leerders. Hulle word deurgaans aangemoedig om sterk morele en geestelike waardes aan te kweek sodat hulle verantwoordelike, empatiese en volwaardige burgers sal wees.

Sport / kultuur
Ywerige deelname aan georganiseerde sportsoorte soos rugby, netbal, atletiek, pluimbal, skaak en swem vind plaas. Die skool se senior gebarekoor het die afgelope drie jaar naam gemaak met hul optredes saam met bekende kunstenaars soos: Steve Hofmeyr, Anneli van Rooyen, Rina Hugo, Mathys Roets, Jannie Moolman, Sibongile Mngoma, Kevin Leo, Sonja Heroldt, Rian Swanepoel, Manuel Escorcio, Andrè Schwartz, en talle ander. Verskeie musiekproduksies is al op die planke gebring en 'n internasionale konserttoer na Argentinië het in 2005 plaasgevind. Die groep het in 2007 na Suid-Korea ‘n konserttoer meegemaak.