Prinshofskool vir Gesiggestremdes

Hoof: Mev Karin Swart

Prinshofskool vir Gesiggestremdes is ’n multikulturele, dubbelmedium (Afrikaans en Engels) skool geleë in die sentrale sakegebied van Pretoria. Die skool het in 1963 geopen en bied tans onderrig aan 404 blinde en swaksiende leerders van graad R tot graad 12. Ongeveer 70% van die leerders kom uit agtergeblewe gemeenskappe.

Die skool het sewe koshuise op die perseel. Leerders is afkomstig vanoor die hele land en koshuisinwoning word verskaf aan 215 leerders. Skoolvervoer is vir dagskoliere beskikbaar in die Pretoriagebied.

Prinshofskool bestaan uit ’n graad R-klas, ’n primêre en ’n sekondêre skool, ’n afdeling vir spesiale onderwys wat fokus op praktiese vaardighede, asook ’n afdeling vir leerders met veelvuldige gestremdhede. Leerders volg dieselfde kurrikulum as hoofstroomleerders in Gauteng en skryf die standaard Senior Sertifikaateksamen.

Vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Musiek, Lewenswetenskappe, Verbruikerstudies, Ekonomie, Besigheidstudies en Rekenaartoepassingstegnologie word met sukses aan blinde leerders gebied. Oudleerders studeer aan verskeie universiteite en volg kursusse in onder andere Aktuariële Wiskunde, Informatika, Musiek en Geesteswetenskappe. Die skool het ’n trotse rekord van ’n 100%-slaagsyfer in graad 12 vir 20 agtereenvolgende jare.

Hulpdienste by die skool sluit in ’n opvoedkundige sielkundige, vier arbeidsterapeute, ’n verpleegkundige, ’n algemene mediese kliniek en laevisie-evaluering deur ’n vrywillige oftalmoloog en optometris. Oriëntering, mobiliteitsopleiding en daaglikse lewensvaardighede speel ’n belangrike rol in die opvoeding van ’n gesiggestremde leerder.

Die Musiekmagneetsentrum is betrokke by ’n koor, orkes, klopdanse, rubberdanse, baldanse, Afrikatromme en individuele musieklesse. Die rekenaarsentrum is toegerus met sagteware vir blinde en swaksiende leerders, asook ’n brailledrukker en ’n fotokopieerder. Gratis internettoegang word verskaf aan leerders en personeel. ’n Aktiewe buitemuurse program sluit in swem, atletiek, sokker, skaak, ’n gimnasium sowel as die geleentheid om jaarliks deel te neem aan die SA Spele vir Fisiek Gestremdes. Leerders word aangemoedig om betrokke te raak by die Verteenwoordigende Raad van Leerders. Die skool word tans deur die Gautengse Onderwysdepartement opgeknap.

Kontak Besonderhede Fisiese Adres Posadres
Telefoonnommer: 012 328 4170
Faksnommer: 012 328 4540
E-posadres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Prinshofstraat 19
Pretoria
Posbus 2817
PRETORIA
0001